SARIE is die voorkeur-glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika met ‘n moderne wêreldbeskouiing. SARIE is ‘n intieme deel van haar lewe en ‘n ware voortsetting van haar leefstyl. Maand ná maand vertel die tydskrif tipies Suid-Afrikaanse stories wat haar altyd goed laat voel oor haarself en haar wêreld. Dis na SARIE dat sy haar wend vir kernoplossings en vertroude geselsies. Dis waar sy haar spesiale inspirasie vind.
Van die redakteur
ELEMENTÊRE dekor • Aarde, water, lug & vuur – die vier klassieke elemente in Griekse filosofie – is die vertrekpunt van die Elemental Folk-trend wat nou ons huise en leefwêreld tooi. Kom dit by tekstuur, skakerings, vorms en motiewe, gee die rustieke voorkoms, handgemaakte items en inspirasie uit die natuur die toon aan
My droomhuis is langs die see . . .
Rusplek op die vlakte • Diep in die wye Tankwa-Karoo is De Kruis, ’n plek wat jou wegvoer met sy ruwe skoonheid en heilige stilte. Hier kan jy asem skep in die ou plaashuis met die dekor ’n vermenging van egte Karoostyl en Engelse landelike invloede
die voorkoms. • Tipies aan ’n Karoohuis is paraffienlampe, blou breekgoed en ’n Aga-stoof, hier aangevul met verrassende elemente soos ’n fyn kristalkandelaar en ’n koperbad
Kaleidoskoop van kleur • In die kleurryke Bo-Kaap, met Leeukop en die Moederstad se geliefde Tafelberg op die agtergrond, is dié karaktervolle woonstel. Met dekor eklekties en eksoties voer die ruimte jou met die intrapslag weg van die omringende stadsrumoer
die voorkoms. • Skep ’n eksotiese en eklektiese atmosfeer deur onder meer kleurryke Marokkaanse teëls, Indiese kussings en Oosterse porselein te vermeng
Welkom op Nooishof • In die afgeleë en nimmereindigende landskap van Suid-Namibië lê Nooishof, ’n plek waar jy weer stadig leer leef. Die werf en huis smelt soomloos saam met die omgewing, waar grense vervaag tussen die halfwoestynvlaktes en die horison. Sagte dekorkleure eggo die natuur
die voorkoms. • Die dekor dui deurgaans op ’n stadige pas van leef, soos wiegstoele, sagte matte, gedempte kleure en items wat ’n storie vertel van die landskap om jou
Tussen berg en see • Teen die hange van St. James, die prentjiemooi kusdorpie aan die Valsbaai-kus van die Kaapse Skiereiland, lê Casa Santiago. Met uitsigte oor die eindelose oseaan, mideeusmoderne meubels en besonderse dekorstukke van oraloor laat die huis en tuin jou dink aan verre eksotiese plekke
die voorkoms. • So ’n unieke voorkoms kan verkry word met organiese vorms soos ronde spieëls, boepensglasbottels, luukse matte en anderste teëls
Huis in die bos • Die kompakte voorafvervaardigde huis – byna weggesteek in ’n kareebos aan die buitewyke van Bloemfontein – is ’n treffende voorbeeld van klein maar ruim. Innoverende ontwerp gee ’n warm, persoonlike karakter aan die tuiste gevul met mideeuse meubels en subtiele kleure
die voorkoms. • Mideeuse meubels en style uit die 1970’s is hier ’n goeie keuse om ’n gevoel van ruimte te skep. Die kleurpalet is ryk roomkleure, oker, groen en selfs ’n tikkie pienk
Huis teen die hange • Die regop drieverdiepinghuis in Fresnaye, Kaapstad, dateer uit die Victoriaanse era en kyk uit oor Leeukop en die wye Atlantiese kus tot by Robbeneiland. Binne wag ’n weelderige stedelike toevlugsoord waar die aardse kleurpalet die uitsigte aksentueer
die voorkoms. • ’n Luuks-gemaklike voorkoms word aangevul deur elemente van rottang, gekerfde hout en besonderse beligting
Volkleur-Karoo • Vars idees, kleur en patroon op patroon word ten volle uitgeleef in ’n Victoriaanse huis op Richmond, ’n historiese dorpie in die Karoo. Hier word atmosfeer, herinneringe en speelsheid saamgevleg
die voorkoms. • Antiek en modern ontmoet mekaar met handgemaakte dekor-items, Delft-geïnspireerde...